Ennio Morricone

Ennio Morricone
Ennio Morricone in 2007
tydens die Cannes-rolprentfees
Agtergrondinligting
Gebore(1928-11-10)10 November 1928
Rome, Italië
Sterf6 Julie 2020 (op 91)
Rome, Italië
GenresRolprentklankbane
Klassieke musiek
Absolute musiek
Jazzmusiek
Popmusiek
Rockmusiek
Beroep(e)Komponis, orkestrator, dirigent en trompetspeler
Jare aktief1946–2020
WebwerfAmptelike webwerf

Ennio Morricone, OMIR ([ˈɛnnjo morriˈkoːne]; 10 November 1928 – 6 Julie 2020) was 'n Italiaanse komponis, orkestrator, orkesdirigent en trompetspeler wat musiek in 'n groot verskeidenheid style gekomponeer het. Hy word onder meer onthou as die komponis van meer as 400 musiekklankbane vir rolprente en televisiefilms sowel as 'n honderdtal klassieke musiekstukke wat van hom een van die grootste meesters ooit in die genre gemaak het. Hy word veral onthou vir die klankbaan van die rolprent The Good, the Bad and the Ugly. Sewentig miljoen plate met sy musiek is wêreldwyd verkoop.[1]

Ennio Morricone se nalatenskap is 'n repertoire van onsterflike komposisies
Historiese 8-track-klankbande

Morricone, 'n boorling van Trastevere, een van Rome se tradisionele werkersklasbuurte aan die Tiber se regteroewer, en seun van 'n nagklub-trompetspeler, het al vroeg begin om trompet te speel en op die ouderdom van ses sy eerste musiekstuk gekomponeer. Hy het in klassieke musiek gestudeer en sy loopbaan as komponis met die skryf van musiek vir tonele (drama en musiekteater) en radioprogramme begin. Die Italiaanse afdeling van die platemaatskappy RCA het hom as musiekbewerker aangestel, terwyl hy ook musiek vir popkunstenaars begin komponeer het. Treffers vir sangkunstenaars soos Paul Anka, Françoise Hardy en Demis Roussos het uit sy pen gekom. Later het hy ook met die Britse popmusiekduo Pet Shop Boys begin saamwerk. Daarnaas het hy baanbrekerswerk vir die genre van avantgarde-musiek gedoen met sy werk vir die Gruppo di Improvvisazione di Nuova Consonanza, 'n kollektief van eksperimentele en improvisionele komponiste.

Maar dit is veral sy komposisies vir die silwerdoek en televisieprogramme waarvoor Ennio Morricone deur internasionale gehore onthou word. Die eerste musiekstukke in hierdie genre het hy vanaf die middel van die 1950's nog as spookskrywer vir ander komponiste gekomponeer. Ook het hy ander komponiste se stukke bewerk, onder meer vir rolprente wat onder die regie van meesterregisseurs soos Michelangelo Antonioni, Vittorio de Sica en Dino Risi ontstaan het. Uiteindelik het hy ook onder sy eie naam begin komponeer. Die musiekklankbane, wat in samewerking met Luciano Salce ontstaan het, het sy reputasie as komponis van formaat bevestig.

Verskeie kere het Ennio Morricone self as dirigent op die verhoog opgetree tydens opvoerings en konserte van sy filmmusiek en konsertstukke – waaronder sy legendariese opelugkonsert op Venesië se Markusplein in 2007 wat as musiek- en video-opname gedokumenteer en vrygestel is. Morricone se orkestrasies was dikwels ongewoon, uniek in die samestelling van klanke in sy orkestrasie. 'n Opname van die Amerikaanse sanger Woody Guthrie se lied Pastures of Plenty wat in Rome ontstaan het – met harde klanke van viole, die slaan van 'n sweep, kerkklokke, solo's vir elektriese en akoestiese kitare, klokkespel en koorsang (in latere Italiaanse western-rolprente (van die term spaghetti western het hy glad nie gehou nie) verder verryk deur byvoorbeeld die huil van 'n prairiewolf) – sou deure vir Morricone open. Die Italiaanse regisseur Sergio Leone (1929–1989) het – toe hy vir die eerste keer na hierdie opname geluister het – sy kontrak met 'n ander komponis gekanselleer en in 1964 aan Morricone die opdrag gegee om die musiekklankbaan vir A Fistful of Dollars (Per un pugno di dollari) te komponeer.

Gedurende die 1970's het Ennio Morricone sukses behaal met sy komposisies vir groot Italiaanse televisieproduksies soos Mosè, Marco Polo, I Promessi Sposi, La Piovra en baie ander.

Een van Ennio Morricone se kantates, Voci dal silenzio ("Stemme van stilte"; vir spreekstem, geluidsopnames, koor en orkes), wat in 2002 ontstaan het, baseer op 'n teks van die Suid-Afrikaanse digter, kritikus en anti-apartheidvegter Richard Rive wat in 1989 vermoor is. Die musiekstuk is deur Morricone onder die indruk van die terreuraanvalle in die Verenigde State op 11 September 2001 geskryf en gewy aan alle slagoffers van slagtings. In Februarie 2007 is die kantate met Morricone as dirigent in die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York opgevoer.

  1. "Cinecittà New, 6 Julie 2020: Master Ennio Morricone dies at 92. Besoek op 7 Julie 2020". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Julie 2020. Besoek op 7 Julie 2020.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search